Bladsye

Dinsdag 29 Oktober 2013

Die Israelvisie-hipotese

Mense wat glo dat hedendaagse blanke Afrikaners en ander blanke Westerlinge, afstammelinge is van die volk Israel van die Ou Testamentiese tye, en dat die Bybelse riglyne slegs van toepassing is op hierdie blankes en nie op álle mense nie, is ondersteuners van die Israelvisie-hipotese. Die meeste van hierdie mense glo dat Jesus die Seun van God was en dat geloof in Sy kruisdood ʼn voorvereiste is vir Verlossing. Wat hulle egter onderskei van byvoorbeeld Calviniste, is hulle bewering dat slegs gelowige “blankes” die Ewige Lewe kan beërwe. Richard Brothers (1757-1824) kan beskou word as die eerste moderne apostel van ʼn vorm van die Israelvisie-hipotese. Die lewensverhaal van Brothers word vertel in ʼn artikel getiteld “Anglo-Israelitism” in die Encyclopedia of Religion and Ethics, gepubliseer in 1908. Brothers is as sielsieke opgesluit, maar het nogtans baie bewonderaars gehad. Hy het beweer dat die blankes van Europa die nasate van die “tien verlore stamme” van Israel is. Hierdie stamme het glo “verlore” geraak nadat hulle deur die Assiriërs in 721 VGE uit Palestina weggevoer is.

Israelvisie-ondersteuners glo dat Jahwe (die Hebreeuse woord vir die God van die Ou Testament), ʼn sekere spesiale menseras uitverkies het, wat verhewe is bo alle ander mense op aarde (Deut. 7:6; Amos 3:2). Hierdie kinders van Abraham, deur die saadlyn van Isak en Jakob (Psalm 105:6), was ʼn seën vir almal wat hulle geseën het en ʼn vervloeking vir almal wat hulle vervloek het (Genesis 12:3).

Die afstammelinge van die twaalf seuns van Jakob, was diegene vir wie die Messias aarde toe gekom het (Romeine 9:4,5). Hulle glo dat die Nuwe Gelofte gemaak is met dieselfde mense as waarmee die Ou Gelofte gemaak is, naamlik die volk Israel (Jeremia 31:31-33). Hulle glo verder dat Adam slegs die vader was van die Wit ras. As ʼn seun van Jahwe (Lukas 3:38), geskep na Sy beeld (Genesis 5:1), kan Adam en sy afstammelinge Jahwe ken as hul Skepper. Adam was drieledig geskep - bestaande uit ʼn liggaam, siel en gees (I Thes. 5:23; Hebreërs 4:12). Die geestelike gedeelte verskaf aan hom ʼn hoër vorm van bewussyn en onderskei hom van al die ander rasse op aarde (Deuteronomium 7:6; Amos 3:2).  

Baie mense glo dat rasseverhoudinge só ʼn belangrike aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing is, dat godsdienstige geloofsbeginsels ook van toepassing daarop behoort te wees. Baie tradisionele Afrikaanse kerke se onwilligheid en/of onvermoë om duidelik standpunt in te neem t.o.v. die beweerde Bybelse regverdiging vir Apartheid, verskil van Israelvisie-ondersteuners se uitgesproke ondersteuning van die beginsels van Apartheid en rassediskriminasie.

Israelvisie is ʼn kombinasie van Godsdienstige Fundamentalisme en verregse politieke ekstremisme en verteenwoordig in ʼn sekere sin die presiese teenoorgestelde van my eie Nuwe Spirituele lewensbeskouing. Drie van die belangrikste aannames van Israelvisie-ondersteuners is: 

  • Westerse Blankes (sogenaamde Ariërs) is die afstammelinge van die volk Israel van Bybelse tye.
  • Blankes is meer “spesiaal” as nie-blankes.
  • Die Bybel is die Woord van God en Jesus (Jahshua) is deel van God Drie-Enig.


(1) “Westerse Blankes is die afstammelinge van die volk Israel van Bybelse tye”



Israelvisie-ondersteuners beweer dat die meeste van die hedendaagse Jode nié die ware afstammelinge van die Israeliete van die ou Bybelse tye is nie, maar dat hulle wel die “kinders van die Duiwel” is. Westerse Blankes daarenteen, is glo die werklike “rasegte” nasate van die “tien verlore stamme van Israel”. Hierdie siening is teenstrydig met geskiedkundige getuienis in verband met die herkoms en kultuur van Westerse Blankes. Baie Israelvisie-ondersteuners beweer foutiewelik dat Europa géén ordentlike beskawing gehad het voor die “tien verlore stamme” dit binnegestroom en skielik bevolk het nie. Die Grieke, Romeine, Kelte en Germane het egter Europa alreeds vir eeue bewoon, lank voor hierdie beweerde migrasie plaasgevind het. Israelvisie-ondersteuners se bewering is ook teenstrydig met argeologiese getuienis wat in die laaste paar eeue opgegrawe is; asook rotstekeninge in Frankryk, Spanje en ander dele van Europa. Baie van hierdie kunsskatte en tekeninge dateer so lank terug as 20 000 jaar gelede.

(2) “Blankes is meer spesiaal as nie-blankes”

Israelvisie-ondersteuners beweer dat blankes spesiaal is omdat God  hulle kwansuis uitverkies het en dat hulle daarom geregtig is om oor nie-blankes te heers. Hulle impliseer dus dat blankes méér spesiaal is, ten spyte van al die immorele dade wat blankes deur die jare gepleeg het. Hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat baie van die probleme waarmee Afrika deesdae worstel, soos o.a. toenemende gespanne verhoudings tussen bevolkingsgroepe, Godsdienstige Fundamentalisme en besoedeling, die gevolg is van die invloed van veral blanke koloniale magte in die verlede en multinasionale Westerse maatskappye in die hede. 


(3) “Die Bybel is die Woord van God en Jesus (Jahshua) is deel van God Drie-Enig”

Israelvisie-ondersteuners glo dat Jahshua (Jesus) die Messias, mens geword het ten einde vir Sy volk Israel te sterf (Lukas 1:68); as ʼn bloedverwant van die vlees (Hebreërs 2:14-16; Romeine 9:3-5) gesterf het as die Lam van God vir die kwytskelding van hul (die Israeliete se) sondes. Die meeste Israelvisie-ondersteuners glo dus dat Jesus die Seun van God is, maar dat slegs Blankes wat Jesus aanvaar as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker, die Ewige Lewe kan beërwe. Israelvisie-ondersteuners kritiseer dikwels al wat ʼn hoofstroomkerk is, maar hulle vergeet dat baie van hul eie geloofsbeginsels juis jare gelede geformuleer is deur die Rooms-Katolieke Kerk. So byvoorbeeld is die dogma oor God Drie-Enig in 325 GE by die Konsilie van Nicéa aanvanklik deur die Katolieke amptelik omskryf. Verskillende weergawes van die Bybel waarvan ons vandag bewus is, is eers baie jare daarná saamgestel. Verskillende godsdienstige organisasies het sekere geskrifte wat vir hulle onaanvaarbaar was, uit die Bybel weggelaat en sodoende het selfs sommige Israelvisie-ondersteuners - die “Dogter van Sion”-groep, in die 1990's hul eie “Bybel”, Die Boek van Herinnering, saamgestel en van Paulus se beweerde boeke daaruit weggelaat! Ten spyte daarvan glo hulle dat hul “Bybel” slegs geskryf is vir én betreffende ʼn spesifieke uitverkore groep mense - die kinders van Jahwe (Lukas 3:38; Psalm 82:6), deur die saadlyn van Adam (Genesis 5:1).